Sunday, August 19, 2012

Glowing Dust – Beste tema foto in Augustus

In my gesin is modelle vir fotos maar skaars en as ek die geleentheid kry moet ek vinnig speel. Corli het vir die foto vermoedelik ingestem omdat sy nie vinnig genoeg aan ‘n verskoning kon dink nie en ek is ‘n 30 minute foto sessie toegestaan.

Glowing dustDie idee vir die foto was al vir ‘n rukkie in my kop en ek het geweet wat ek wou doen. Voor my halfuur met die model begin het, het ek al die voorbereiding gedoen. Ek ‘n swart agtergrond opgestel met een hoof flits in ‘n silwer sambreel aan die kant en ‘n wit weerkaatser aan die teenoorgestelde kant om die donker kant effens te verlig. Ek het die fokus en ander verstellings van die kamera en op die flits op “manual” gesit om te verhoed dat die groot kontras probleme gee. Ek het ‘n paar toetsfotos geneem, sonder die model, om die verstellings reg te kry en nie my toegelate 30 minute te oorskry nie. Hierdie foto is in RAW geneem met ‘n 105mm lens by f/8.0, 1/60s en ISO 100.

Toe my model gereed was het ons ‘n paar fotos geneem sonder stof om die lig weerkaatsing vanaf die Bybel reg te kry. Ek het dit gedoen deur die hoek waarteen sy die Bybel gehou het effens te verander. Daarna het ons bruismeel op die Bybel gegooi en die aksiefotos geneem terwyl sy blaas. ‘n Paar probeerslae was nodig om die tydsberekening reg te kry en selfs die model het dit nou begin geniet. Agt minute na ons begin het het ek gesien ek het die foto geneem wat ek in gedagte gehad het. Alles was vinnig verby en die model was tevrede!

Met die verwerking was daar min nodig om te verander. Die fotos was bietjie donker en ek het dit verbeter en ek het ook besluit om ‘n spieëlbeeld van die oorspronklike foto te gebruik. Later het ek so bietjie kleur in die “stof” gesit en ek was versigtig optimisties oor my foto se kanse in die “sybeligting tema”.

Die aksie/storie in die foto maak dat dit mens se aandag trek en ek het die positiewe kommentaar van mense wat die foto gesien het, hoog op prys gestel.

Bernard Richard 4*

2 comments:

  1. Baie mooi foto, die extra kleur maak die foto net nog mooier!. Ek hoop die "model" het na die tyd darem bietjie gehelp met opsuig van die bruismeel....

    ReplyDelete
  2. Die opsuig was ongelukkig eers na die 30 minute periode...

    ReplyDelete