Monday, July 23, 2012

Dieretuinuitstappie (Tong in die kies)


Ek was donkiejare laas by die dieretuin, dus was dit met groot opgewondenheid dat ek Saterdagoggend by die groepie van 13 aangesluit het voor die ingang van Pretoria se dieretuin. So uit die perd se bek (Maryka) het ons, ons opdragte vir die oggend ontvang, om ‘n oog, ‘n selfportret, ‘n refleksie, beweging en patrone af te neem.

17Met die aap uit die mou het ons die tog aangepak. Daar was ‘n slang in die gras wat die tyd aanbetref, want dit het gevlieg!  Daar is soveel fotogeleenthede, mense, diere, geboue, natuurelemente, wel, enigiets, noem dit, dis daar.  Ons het rondgeloop soos ‘n hoender wat nes soek, elkeen in sy eie rigting in, en met sekere tussenposes weer soos voëls van eenderse vere bymekaar gekoek om oor koeitjies en kalfies in die fotografiewêreld te gesels.

9‘n Ou kan nogal die aapstuipe kry as die diere nie wil saamwerk en so staan sodat jy ‘n behoorlike foto kan neem nie, maar dit rol soos water op ‘n eend se rug van die diertjies af, hulle gaan maar aan met dit wat hulle besig hou.

23Net ‘n hanetreetjie van die ingang af is die flaminke pragtig geklee in hulle pienk vere.  Dan die luiperd wat op en af geloop het met net ‘n dik glas tussen ons, geen kat om sonder handskoene aan te pak nie!

Dit was groot pret om te sien hoe die selfportrette geneem is.  Een het daar op ‘n eensame bankie gaan sit soos ‘n wafferse ou omie, ‘n ander het oor die pad gehardloop om by die waterval te gaan staan, terwyl die sekondes vinnig aftik, ‘n ander een het skelmpies op ‘n bankie wat op die brug staan, gaan sit en sommerso uit die hand ‘n vinnige foto geneem.

Wel so tussen renosters, olifante, kameelperde, leeus, katte, plaasdiere, voëls en wat nog kan ‘n ou nie glo dat die oggend se vinnig gevlieg het nie.  Ek het geen kat se kans om ‘n COM met enige van my foto’s te wen nie, maar ek sien dit as nog ‘n bietjie ervaring in die bank.

Esta de Jager

No comments:

Post a Comment