Wednesday, October 12, 2011

Centurion kameraklub fotouitstalling 2011

Atterbury teater, Dinsdag 25 Oktober om 18:30
Die idee van ‘n fotouitstalling spruit uit die inisiatief om belangstelling in die klub vir hoë gehalte fotografiese afdrukke te bevorder. Aangesien afdrukke nie meer as medium vir die beoordeling van foto’s in die klub dien nie, sien ons glad nie meer afdrukke nie en sterf dit as’t ware uit.
Die uitstekende gehalte wat huidige inkdrukkers behaal op spesialismedia maak dit aantreklik om jou eie werk op papier te sien en bly die beste manier om jou werk te vertoon.
As eerste poging loods die klub ‘n fotouitstalling om die belangstelling in afdrukke as medium te toets. Afdrukke word deur spesialisdrukkers “Wet Ink” gedoen op ‘n uniforme mat oppervlak gedruk, vereers ongemonteer sodat alle foto’s dieselfde formaat en grootte het.  Die foto’s op die uitstalling gaan teen R200 stuk te koop aan die publiek gebied word. 'n Beoordelaar sal aangewys word om die beste van die foto’s ten toon gestel aan te dui.
Die uitstalling word by Atterbury teater gehou vanaf Maandag 25 Oktober tot Sondag 31 Oktober.  Bywoning vir lede en gaste by die openingsaand is gratis maar moet aangedui word by die klub vir logistieke redes. Daarby word kaartjies by die deur teen ‘n afslagtarief aangebied vir die vertoning: “Vive La France”, ‘n Franse vertolking van afrikaanse liedjies.
‘n Fotoboek gaan gepubliseer word met alle uitstalfoto’s in en sal as verwysing dien by die uitstalling vir besoekers en fotograwe. Eksemplare sal op bestelling te koop aangebied word.
Ons hoop hierdie eerste poging om ons werk vir n breër publiek ten toon te stel sal n nuwe ywer by klublede aanwakker om die waarde van gehalte afdrukke te erken as medium vir die beste van Centurion Kameraklub se fotografiese talente.
Groete
Arnold Theron.

No comments:

Post a Comment