Helouise het my gevra om bietjie meer inligting te gee oor my foto "Kenmo Lake" wat Mei maand 'n COM sertifikaat gekry het.
Wel eerstens: so bietjie meer oor my: My naam is Fransien Schutte en ek behoort vanaf Februarie 2012 aan die klub. Ek het 'n een ster gradering.
Kenmo Lake het 'n besonderse plek in my hart. Ek is bietjie meer as 3 jaar gelede getroud in die klein dorpie genaamd Himeville en ons het ons piekniek onthaal by Kenmo Lake gehou. Die grond is tot die beskikking gestel van die gemeenskap deur 'n boer wat dit op sy plaas gevestig het. Dit is net buite Himeville na Sani Pas se kant. Die plek het 'n besonderse bekoring omdat dit die pragtige meer soos op die foto het en dan is daar 'n woud van bome reg rondom die meer. Die bome wat in daardie omgewing aangeplant is, is bome soos die "pin oaks", plataanbome en populiere, omdat dit van die min bome is wat die sneeu en koue kan weerstaan. In die herfs is hierdie omgewing prentjie-mooi met al die herfs kleure wat afwissel van oranje tot rooi en geel.
Ek en my man en vriende was einde April hierdie jaar in Himeville. Ek het natuurlik my kamera oral saamgedra en honderde foto's geneem. Maar my foto's wat ek by Kenmo Lake gaan afneem het, het ek fyn beplan. Ek het die oggend 6:30 al by Kenmo Lake aangekom met die doel om die mis op die water te vang asook die stil refleksies van die bome op die water. Wat vir my vreemd was, is toe ek daar aankom, was daar reeds twee ander fotograwe. Toe ons begin gesels oor wat ons gaan afneem het die man met die groot kamera gemeen dat hy eers die bome en blomme gaan afneem tot die mis gelig het. Ek het vir 'n oomblik gehuiwer of ek my driepoot moet opstel om die beplande foto's te neem, maar besluit toe dat ek dit wel gaan doen en nie my gaan steur aan ander mense se opinies nie.
Ek het 3 foto's op 'n slag geneem...onderbelig, presies die regte beligting en oor belig met die doel dat ek die HDR ding gaan probeer. Nie dat ek al 'n program gehad het om dit in te doen nie, maar ek was van plan om te gaan soek. Die foto wat ek ingeskryf het, het ek geneem na so 20 min se rondspeel met verskillende komposisies. Toe ek my foto inskryf het ek steeds nie 'n HDR programmetjie gehad nie. Die foto is dus net die een met die regte beligting. My kamera was op 'n driepoot en ek het die timer gestel sodat my kamera nie sal skud nie.
Hier volg my kamera settings:
- Kamera: Canon 500D
- ISO: 200
- F-stop: F/11
- Shutterspeed: 1/10sec
- Lens: 18mm
- White balance: Ek dink dit was op Sonskyn
Nou ja, daar het julle dit. Indien julle ooit in die omgewing van Himeville is, vra asb in die dorp waar Kenmo Lake is. Al die "locals" ken die plek en sal jou beduie hoe om te ry. Dis die mees fotogeniese plek waar ek nog ooit was en jy sal verseker, soos ek sien hoe die Here die mees asemrowende prentjies daar skilder om vir ons 'n kans te bied om dit deur die lens van 'n kamera vas te vang, sodat ander ook Sy skepping kan waardeer.
Kamera groete,
Fransien (1*)
No comments:
Post a Comment