Klubinskrywing 8 Julie 2013 - Meriete sertifikaat
Ons was vanaf 11 tot 19 Mei in Onder Sabie ruskamp in die Kruger Wildtuin. Sunsetdam is net buite die kamp geleë en daar is gewoonlik baie fotogeleenthede. Hierdie keer was daar egter nie baie voëls soos in die verlede nie. Ek ry nie baie rond in die wildtuine nie om verskeie redes.
Eerstens as jy iets kry wat die moeite werd is om af te neem is daar gewoonlik baie ander motors wat dit moeilik maak om in die regte posisie te kom vir ‘n goeie foto. Meestal is die agtergrond dan ook nie reg nie en die rigting van die sonlig is gewoonlik ook verkeerd. Dikwels is daar ook lang gras en bosse wat dit onmoonlik maak vir enige foto.
Ek ry altyd vroeg uit en gaan sit by ‘n watergat of dam waar ek met my voertuig so stop dat die lig reg sal val op ‘n dier of voël wat daar mag opdaag en ry so teen 10h00 of 10h30 terug kamp toe. Dan gaan ons weer so teen 15h00 se kant uit en doen dieselfde.
Ek het hierdie bloureier by Sunsetdam lank dopgehou met my kamera en lens reg vir aksie want ek weet as hy so in die water rondloop gaan hy een of ander tyd iets vang. Met die vangslag druk jy die sluiterknoppie en ek neem teen 7 fotos per sek. Ek het met tussenposes so 3 of 4 fotos elke keer geneem. Na ‘n tyd het hy egter weggevlieg met die padda. Ek het nie verwag hy gaan vlieg nie en het sy vlerke dus deur die raampie afgesny omdat hy met oop vlerke baie groter was in die raam en daar nie tyd was om terug te zoom nie. Sulke dinge gebeur soms en ek sou hom graag in vlug wou kry met die padda in sy snawel, maar ja dis weer een wat weggekom het.
Die foto is ongeveer 16h00 in die middag geneem met ‘n Pentax K5 en ‘n Sigma 150-500mm. Zoomlens teen f6.3, sluiterspoed 1/1000e sek. en ISO 280. Ek stel die kamera op outo ISO, kies die lensopening en sluiterspoed en die kamera moet dan die ISO kies vir die regte beligting.
Wat redigering betref het ek die “levels” effens verstel, asook die “saturation” na so 8 verstel, hier en daar bietjie donkerder sowel as ligter gemaak waar nodig en “gecrop” in Photoshop Elements 11.
Maartin Coetser Meester – Goud APSSA
No comments:
Post a Comment